Brandverslag – Highlands Wilderness – 2 November 2008-11-06
1.Ontstaan vd VUUR.
Die weerlig het die veld op die plaas Waterberg aan die brand geslaan teen 15h00 op Saterdag 1 November. Daarvandaan het dit versprei. Frik het Jan , Joseph & Lucky opgelaai om hulp te gaan verleen. Dit was betaal naweek so daar was nie veel mense op die plase beskikbaar nie.
2. Windrigting tydens vuur – terugbrand
Vanaf Saterdag tot Woensdag het daar heeltyd n Noorde wind gewaai wat die vuur aangejaag het. Om vure dood te slaan/spuit was nie altyd moontlik nie ,maar ons kon terugbrand waar daar brandbane was.Die vuur het Sondag egter oor die groot grondpad gespring van Elements se kant af , deur Mabelingwe , agterom Hilton se plaas ,deur Boshof se grond , oor Thaba Moriri tot in die laaste gedeelte van Zwartkloof & gebrand tot by die deel waar ons die vuur tydens die vorige brand gestop het. Hilton se plaas het ook Maandag gebrand. Ons kon hulle egter help om die vuur betyds te blus voordat dit by ons grens kom.
3. Mense
Dit was duidelik dat mense kom vuurslaan met geen opleiding in die hantering van toerusting nie. Dit is n groot bekommernis want mense kan doodbrand as hulle verkeerd optree by vure. Ons werkers is opgelei & het nou goeie ondervinding opgedoen. Ons het gaan hulpverleen by ander plase tot 23h00 Saterdag aand.Niemand het daaraan gedink om ons werkers ( hulle was die enigste werkers daar) water of kos te gee nie. Ek sal dit by die volgende brandvergadering opneem.
4. Hulpverlening
Waar daar geen voorbereiding / paaie gemaak is nie is dit moeilik om werklik te help op ander plase. Veral in die nag as jy nie die omgewing ken nie. Hier moet ons op Frik se besluitneming & oordeel staatmaak & ondersteun. Hy is daar op die grond & in die beste posisie om te besluit. Ek ontvang gereeld smsse wat sê “Groot brand.Fire fighters benodig.Kom help asb” Frik word gebel.Ons moet hierdie hulpverlening mooi beplan. Daar is n balans tusse vure veg op ander plase vs ons eie plaas beskerm. Toerusting verniel by n vuur & benodig onderhoud na die tyd. Mense is moeg as hulle deur die nag vuur geslaan het.Hulle moet kos & slaap kry om reg te wees sou daar weer n vuur opstaan. Die kommunikasie tussen ons en Cas Aucamp van Lekkerbreek was deurgans goed gewees & daar is goeie samewerking. Dieselfde geld vir Estiaan van Marulani.
5. Potensiele gevaar op Highlands
Die vuurgevaar buite Highlands is nou heelwat minder aangesien meeste buurplase gebrand het tot teen ons grense. Ons huidige gevaar is 1. Die grondpad , gedeelte tussen ons & die lemoenplaas. Dit bly n potensiëlegevaar bv deur mens,weerlig ens omdat dit lang gras het. 2. Gedeelte tussen ons & Shack.Hulle brandbaan is nie skoon genoeg nie. Beide hierdie gedeeltes lê aan ons Noorde kant. Daar was heeltyd n sterk Noordewind tydens die vure. 3. Weerlig kant enige dag Highlands se veld aan die brand slaan wat dan vir ons n groot problem gaan wees.
6. Bedankings
Groot dank aan almal wat gehelp het om vuur te slaan oor die tydperk. Ek wil graag spesiale word van dank rig aan ons plaas werkers & Frik wat donker ure oor die naweek gewerk het om te keer dat die vure binne ons plaas brand & Riekie , Frik se vrou.Sy het heeltyd kos & koeldrank vir die mense voorberie & aangery.Ek het op n stadium 01h30 langs Frik gestaan toe sy hom bel om te sê dat die vuur lyk of dit weer opgestaan het by Zwartkloof & dat ons moet gaan kyk.Dis nou toewyding soos min. Baie dankie Riekie. As n mens nie self by sulke vure betrokke is nie besef jy nie die omvang daarvan nie.
7. Aanbevelings
7.1. Groter brandbane – In total 20meter wyd teen volgende winter rondom die plaas.As die bure nie teen die grensdraad skoonmaak nie moet ons groter oopmaak aan ons kant om te kompenseer. Suidelike grens is moeilike terrein & die bure gee nie genoeg aandag aan hulle buitebane teen ons draad nie. Westelike grens ( Hilton se plaas )is n gevaar as daar n sterk noorde wind agter die vuur waai. Oostelike grens – teen erf 100 moet n 20m skoon brandbaan geskraap wees. Ons sal ook moet besin oor die brandbaan op die grens rondom erf 100.Wie is verantwoordelik daarvoor? Noordelike grens tussen ons – Lekkerbreek ,Lemoenplaas & Shack moet 20m skoon wees. Die enigste manier om vure te beheer op Highlands is om te kan terugbrand vanaf bane/binnepaaie.
7.2. Beveilig “clusters” Rondom die huise moet die area behoorlik beveilig word bv gif ,skoffel,skraap. Elke area moet beoordeel word & volgens n geskikte metode behandel word. As die plaas brand gaan daar nie genoeg mense of toerusting wees om al die huise gelyktydig te beskerm nie. Ek stel voor ons doen beplanning per “cluster”. Die eienaar sal ook bereid moet wees om gedeeltes van die kostes te dra.
7.3. Oopsny van Savanna – om weiding te beveilig sou ons n groot vuur kry.As ons nou reën kry is die gesnyde gras binne n week groen & dit brand stadiger sodat ons dit beter kan beheer as dit brand.
7.4. Pad tussen ons & Lemoenplaas – gevaar.Ons sal hier moet sny,skraap & gif op ons grens ( beesdraad).Dan kan ons tussen ons & die pad brand.Die gras is so lank dit gaan in die somer steeds n brandgevaar inhou.
7.5. Weerlig vure steeds n moontlikheid op Highlands – tot ons goeie reën gekry het & die gras groen is.Die lang gras maak egter dat dit steeds n gevaar sal bly al is dit groen.
7.6. Shack grense is onveilig & benodig aandag. As hulle nie hulle bane gaan skoonmaak nie moet ons aan ons kant groter maak.
7.7. Brand selektief op ons plaas – blokke. Ons sal tot voor die winter moet brand.Ons het nou n goeie geleentheid. Ons kan brand terwyl die bure se gras kort is.
7.8. Eienaars sal moet help – fisies of finanasiel.
7.9. Koste kode vir – “blus van brande” Daar moet geld begroot word vir die blus van brande. Frik moet vergoed word vir sy uitgawes.Hy ry met sy persoonlike voertuig & koop kos & drinkgoed vir sy span.
7.10. Oopsny langs binnepaaie moet voortgaan.
7.11. Brandkrane moet groot volmaakpype kry om vinniger “fire fighters” te kan volmaak.
7.12. Koop 20 vuurplakke aan.Merk dit & hou dit by Frik se stoor beskikbaar vir kontrakteurs wat wil help vuurslaan se mense.Hulle gebruik tans takke
7.13. Vergoed ons werkers – nadat ons vuurgeslaan het. Om hulle tyd af tegee is nie altyd die regte ding nie. Ek wil voorstel dat elke werker n paar rand kry & n nuwe hemp as vergoeding na die onlangse vuur. Hulle was oor die naweek gegryp om te gaan vuurslaan met hulle privaat klere aan wat geskeur het tussen die doringbome.
8.Gevolgtrekking
My eie opinie is dat hierdie vure n skoonmaak proses deur die natuur is. Dit het die afgelope 2 jaar wat ek reën meet op Highlands baie goed gereën.Die gras het welig gegroei & daar is baie materiaal in die veld ( die omgewing ingesluit).Hierdie jaar het die reën weggebly. Nou kry ons sterk wind & droë donderweer voor dit reën wat die veld aan die brand slaan sodat die natuur kan skoon brand. As ons nie ons self gaan beveilig deur ons gras kort te hou nie gaan ons ook met groot vure sit. Ons was nou by 2 geleenthede baie gelukkig om die vure te keer ( genade van bo & n noorde wind van agter ), maar ons gaan nie altyd so gelukkig wees nie. Ek dink ons moet sny waar ons kan sny & brand waar ons moet brand. Ons kan nou op ons plaas fokus want die vure kan nie ons bure meer affekteer nie. Meeste se plase het reeds gebrand. Eienaars sal moet besef – hierdie tipe werk gaan n koste en/of moeite inhou. Die versekeraars gaan ook seker weer na die risiko’s kyk. Onthou:Onkunde is nie n verskoning nie.